Suid-Afrikaanse vervaardigers van landbouwerktuie het soms nie die praktiese boerdery-ondervinding om werktuie só te ontwerp en te vervaardig dat hulle werklik doeltreffend is nie, volgens mnr. Hannes Coetzee, boere-ingenieur van Burgersdorp. En hy is ’n man wat uit ondervinding kan praat.
Nie alleen het hy twintig jaar lank geboer nie, maar die afgelope nege jaar al ontwerp en vervaardig hy plaaswerktuie so reg na die boer se smaak. Die mense van Burgersdorp is met reg trots op hul boerseun wat nou al deur die hele Suid-Afrika bekendheid verwerf het met sy werktuie.