Klimaatsverandering en veranderinge op die platteland en in boerderygebiede veroorsaak dat die risiko van veldbrande groter word. Dit is belangrik dat grondeienaars en grondgebruikers dié risiko’s verstaan en besef dat hulle dit moet bestuur om veldbrande te voorkom pleks van om dit te probeer bestry wanneer dit opduik, sê mnr. Johann Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatste sambreel-brandbeskermingsvereniging (FSUFPA).
“Klimaatsverandering veroorsaak dat ons meer buitengewone weergebeure kry. Dit kan skielik warm en droog word, die wind kan baie sterk waai of op ’n ander tyd van die jaar waai, terwyl baie reën meer brandbare materiaal tot gevolg kan hê.”
Breytenbach sê hul satellietdata van 2019 tot nou vir die Vrystaat toon dat daar verlede jaar meer as 17 000 individuele brandgevalle was. “Dit is ’n styging van meer as 200% sedert 2019.” Hy sê die proporsie hoë-impakgevalle het boonop toegeneem.