Die groep is onlangs uit sy winterslaap gewek om te help om die veld en boerderye ná die afgelope droogte te herstel en veerkragtiger te maak.
Skaars en uitputbare hulpbronne dwing die mens al hoe meer om dit wat hy het, te herwin en op ander maniere te gebruik. Dit is daarom nie vergesog om ’n sluimerende studiegroep ná jare op te wek en ander doelwitte te gee nie, soos wat ’n groep boere by Steytlerville in die Oos-Kaap drie jaar gelede met hul ou studiegroep gedoen het.
Die groep het sowat 20 lede en mnr. Hannes Horn, ’n seun van een van die stigterslede, is die voorsitter. Waar die eerste groep in die droogte van die laat 1960’s tot vroeg 1970’s op voergewasse vir voerbanke gekonsentreer het, het die nuwe groep die herstel van veld en boerderye se finansiële beplanning ten doel, sê Horn.