Die Noord-Kaapse entrepreneur mnr. Cobus Croucamp het ’n selfvoerder ontwerp waarmee wildboere tarentale en meerkatte wat graag van die wild se kos gaps, slim uitoorlê. In die algemeen word wild van die veld af geoes en hul voeding is nie altyd ’n groot uitgawe nie.
In droogtetye of as ’n boer wil seker maak sy wild is in ’n goeie kondisie, moet die diere egter ekstra voeding kry. Croucamp, van Kimberley, het ’n uitsonderlike selfvoerder ontwerp wat hoog genoeg van die grond af is en die voerkorrels op só ’n manier beskikbaar stel dat dit buite bereik van onwelkome besoekers is.
Die selfvoerder het ’n vierkantige bak op vier ysterbene en vier geute wat vanaf elk van die vier sye skuins na onder loop en dan weer horisontaal draai. Die voerkorrels gly in die geut af en gaan lê in die horisontale deel waar die wild dit kan bykom.