Trevor Elliot, eienaar en stigter van die Grasslands-groep by Jeffreysbaai, is nie net een van die grootste melkboere in die Suidelike Halfrond nie, maar is ook ’n voorloper op die gebied van bemagtiging. Altesame 49 werkers wat by die boerdery se ontwikkelingstrust betrokke is, word bevoordeel.
Trevor het hom as geoktrooieerde rekenmeester bekwaam voor hy by die boerdery aangesluit en by sy pa oorgeneem het. Die boerdery is in 1967 gestig en die onderneming bedryf deesdae 16 plase, met meer as 18 000 melkkoeie. Dit produseer nagenoeg 100 miljoen liter melk per jaar.