Thys Louw, sesdegeslagboer op die Diemersdal-wynlandgoed by Durbanville, is ’n man vol planne. Vernuwende produkte, soos Sauvignon blanc wat maande ná parstyd van bevrore sap gemaak word, vind hier gestalte. Diemersdal is een van die oudste familielandgoedere in Suid-Afrika.
Dit is in 1698 gestig en word sedert 1885 deur dieselfde familie na die volgende geslag oorgedra. Van ’n baie jong ouderdom het Thys se pa, Tienie, hom ingesluit by alles wat met die boerdery verband hou. Tienie het hom die leuse van “hou die basiese reg en dan sal alles vanself gebeur” ingedril.