Die Two Moons-stoetery ryg die een prys ná die ander in vir sy werkperde, sportperde en ontspanningsperde. Marco Smit en sy pa, Cobus, is die eienaars, en bestempel die Appaloosa as sekerlik dié veelsydigste perd in Suid-Afrika.
Op dié plaas naby Schweizer-Reneke in Noordwes is daar ponies, Western-tipe perde, halterperde, dresseerperde, springperde en skouperde. Net so veelsydig as wat hul perde is, is die Smit-boere in hul benadering tot boerdery. Daar is ook gesaaides, ’n voerkraal, delwery naby Kimberley, wildteelonderneming en ’n jagplaas en -lodge.