’n Identiteitskrisis is ’n aardige ding. Ons het ’n hanslam op die plaas gehad wat gedink het hy is ’n hond. Hy het karre gejaag en baie ander vreemde dinge gedoen. Eers was dit baie snaaks, want lammetjies is cute, maar nie vir lank nie. Die tyd het hom ingehaal.
Toe ons weer sien, was hy ’n groot skaap – wat gedink het hy is ’n hond. Een van sy slegte gewoontes as groot skaap was om by die tente van die mense wat by die rivier kampeer, in te stap en hul kos te steel.
Daar was tekens dat hy in daardie stadium besig was om oor die hele hond-ding te kom. Sy nuwe fase was egter veel erger. Ek vermoed hy het nou begin dink hy is ’n mens. As hy lus was vir ’n bier, het hy bierblikke begin omstamp.