‘Ja, die boek is baie mooi, ek hou daarvan. Ek het my droom gehad, ek wou altyd ’n boek maak. Ek wou lank my eie ene in die hande gehad het.” Só vertel die 28-jarige Mianke van den Hever van die plaas Beestekuil buite Hanover oor die verskyning van Mianke fluister vir perde en skryf ’n storie (Naledi, 2022) deur Jan Bezuidenhout.
Een uit ’n duisend babas word wêreldwyd met Downsindroom gebore. Dié genetiese afwyking ontstaan reeds by bevrugting, en veroorsaak ’n ekstra nommer 21-chromosoom by ’n mens, en gepaardgaande fisieke en intellektuele beperkinge.
Op Beestekuil ken Mianke egter nie juis beperkinge nie, en sy is almal se spreekwoordelike regterhand. Sy kan bakkie bestuur, ’n kolskoot skiet, skaap werk en ’n bobaas-slaai maak. Sy help vee inent. ’n Perd se rug is haar tweede tuiste.