Die tydsberekening van die verskyning van Sabotage kon nie beter wees nie. Suid-Afrika se kragkrisis verdiep met rasse skrede en die poppe dans ’n obskure dans agter die skerms. Die boek is grootliks ’n voortsetting van die ondersoekende News24-joernalis Kyle Cowan se onthullende artikels op dié nuusplatform.
Dit bevat ook veelseggende onderhoude en agtergrond oor die sleutelfigure wat die mank instelling van ondergang moet red: Jan Oberholzer, André de Ruyter en prof. Malegapuru Makgoba.
In die see van korruptes en gulsiges is die teenwoordigheid van dié drie onbenydenswaardige belanghebbendes, wat gedurig dwarsklappe moet trotseer, ’n bedekte seën.