’n Mens kan sê Louis is een van die beste voorbeelde van sy spesie. Hy is ’n luidier wat elke jaar Woudstad se prys vir die luiste dier wen. Hy is trots op dié medaljes en stal dit graag teen die mure van sy boomhuis uit (natuurlik eers ná hy ’n uiltjie geknip het). Vanjaar is dinge egter anders.
Louis se buurvrou, Liena Luidier, het besluit sý wil die prys vir die luiste dier in Woudstad inpalm en sy ontwerp allerhande katoeters om haar te help om selfs luier te wees.
Daar is ’n blareplukmasjien sodat sy nie eens ’n poot hoef uit te steek om middagete te geniet nie, ’n roltrap wat haar teen die boom op en af woerts, en ’n melkskommelmasjien.