Ek weet nie watter onthaalmodes daar in die vroeë 1970’s in Suid-Afrika was nie, maar in Londen was fondue uiters gewild en modieus.
Ons drie kinders is gewoonlik saamgesleep wanneer ons ouers by hul nuwe Engelse vriende gaan kuier het, of etes bygewoon het by die woonstel van George Boshoff en Johann Holzapfel, twee Kapenaars wat deur dieselfde koerantgroep as Pa na Londen gestuur is om nuus te skryf.
Amper elke tweede samekoms van die grootmense het ’n fonduepot behels. Ek het twee soorte fonduepotte beleef – olie en kaas – maar die beginsel is dieselfde. Daar is ’n pot – Ma s’n is koper, sy’t hom nou nog – en in die pot, wat van onder deur ’n spiritusvlammetjie verhit word, is die vloeibare bousteen vir jou maaltyd.