Minki se avonture: Minki maak ’n plan en Minki se boekedag! deur Jaco Jacobs. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: sowat R100 elk Minki, Lara en Natalie is boesemvriendinne.
Max en Marko is Minki se verpestelike tweelingboeties wat altyd in die sop is. Dan is daar Danika, met die perfekte blonde poniestert en giftige tong. Dié karakters vorm die ruggraat van twee nuwe boekies in die Minki-reeks deur die bobaas-kinderboekskrywer Jaco Jacobs.
In elke boekie staan die drietal vriendinne voor groot struikelblokke, wat hulle dan met sukses oorkom (en sommer vir jong lesers so ongesiens ’n lewenslessie ook inwerk, terwyl die lagspiere lekker gekielie word).