
Dit is op 2 September in Kimberley gehou en uitstekende gholf het geseëvier. Mnr. Cecil Wiley van distrik Hopetown het met die eer as die Beste Boer op die Baan weggestap nadat hy 44 punte aangeteken het.
Die naaswenners van die halfeindronde is mnre. Duran du Raan in tweede plek met 41 punte en Willie Duvenhage derde met 40 punte.
Die soektog na die Beste Boer op die Baan het reeds meer as ’n maand gelede op Upington begin en is gevolg deur ’n reeks gholfdae reg oor die GWK-bedieningsgebied. Tydens die halfeindronde het 94 spelers teen mekaar te staan gekom in die hoop om een van die top 20 boere te wees wat deurdring na die eksklusiewe eindronde, wat vanjaar by St. Francis Links by St. Francisbaai in die Oos-Kaap aangebied word.
Die GWK Farmers Cup, ’n gholftoernooi vir GWK se boere, word sedert 2018 jaarliks aangebied, met die uitsondering van 2020. Die toernooi bestaan uit nege kwalifiseringsrondes op verskillende dorpe in die GWK-bedieningsgebied. Tydens die haldeindronde sluit lede van GWK se direksie, uitvoerende bestuurspan, GWK-personeel en borge aan by die top-boerespelers vir ’n opwindende en uiters mededingende gholfdag.
Die laaste stop is by St. Francis Links in Oktober waar dié groep oor drie dae (waarvan twee gholfdae is) om twee onderskeie trofeë sal meeding: Die Beste Boer op die Baan (Farmers Cup-trofee) en die kompetisie vir GWK-personeel, borge en ander verteenwoordigers.
Die toernooi word aangebied met die samewerking van die hoofborg, Safire Versekering, wat al vir ’n derde jaar betrokke is, GWK Pecans, wat vir die tweede jaar die toernooi ondersteun, en Landbouweekblad, wat sedert die eerste toernooi in 2018 die mediaborg is.