Kel-kie-wyn! Die geluid kom nader en word meer totdat voëls uit alle rigtings op die grond rondom die watergat toesak. Honderde en selfs duisende van dié voëls kan so bymekaarkom. Een nader die water versigtig, drink vinnig, dompel sy pensvere in die water en vlieg vinnig weg.
Dit is die teken waarop almal wag en die menigte sak op die water toe met fladderende vlerke en ’n groot geraas – dit lyk asof die water kook. Net so vinnig laat spaander hulle weer in verskillende rigtings totdat die laaste roep in die verte verdwyn.
Dié skouspel is ’n geliefkoosde tydverdryf van voël- kykers en fotograwe by die watergate in die Kgala- gadi-oorgrenspark. Die kelkiewyn (Pterocles namaqua), wat aan die sandpatrys-familie behoort, kom nomadies voor na gelang van weersomstandighede en die beskikbaarheid van saad.