Hulle wou die padstal ’n Afrikaanse naam en tema gee wat eiesoortig aan die Vrystaatste boeregemeenskap is, sê Chané Theron. En wat kan dan beter wees as ’n bekende Afrikaanse liedjie wat mense maklik onthou en sommer begin sing as hulle die naam lees?
Chris Blignaut het immers al in die 1930’s gesing: “O, die donkie is ’n wonderlike ding, ja-nee, die donkie is ’n wonderlike ding.” Chané sê baie van die boere in die omgewing hou donkies aan om hul skape teen jakkalse te beskerm.
En sy sal hiervan weet, want haar man boer ook buite Memel in die rigting van Vrede. Die plan is om in die somermaande donkies buite die padstal aan te hou waarmee kinders (en volwassenes) nader kan kennis maak. Tot dan is daar plakkate en sêgoed oor donkies oral by die padstal.