Meer as een predikant het al die toets gedop. Nie in ’n kroeg of gimnasium soos van sy gemeentelede nie, maar in die kerk. “Kleuterwaarheid” ken geen plek of tyd nie. Soms hoef jy nie te vra nie, hulle sê jou sommer.
Met vier orrelpypies het ons alle eerlike en oneerlike redes gebruik om nié met hulle kerk toe te gaan nie. Ons wasmasjien was meer as ’n week stukkend en die man by Gerber-se-winkel wat hom moet regmaak, het nie ons probleem verstaan nie.
Hy het waarskynlik ook nie wasmasjiene verstaan nie. En net sodat almal verstaan, daar was nog nie weggooidoeke soos nou nie. Op ’n slegte dag kan jy tot vyf poefdoeke kry in die tyd wat dit duur om een met die hand te was.