Leon-Ben Lamprecht is nie ’n vreemdeling wanneer dit by skryfwerk kom nie. Dié finansiële raadgewer van Wellington was immers voorheen ’n gesoute nuus- en reisjoernalis. Maar vanjaar het hy ongekarteerde waters ingevaar en sommer twee kinderboeke die lig laat sien.
Die eerste, Wie skrik vir Wortel Wolf? (Tafelberg-uitgewers, R150), het in ’n oogwink ’n gunsteling in ons huis geraak. Hierin word drie bekende sprokies op moderne en humoristiese wyse vanuit die wolf (wat nie eens vleis eet nie!) se oogpunt vertel.
En raai, hy is toe al die tyd glad nie só sleg nie! Barend die Barbaar (Kraal-uitgewers, R160) is ’n sewejarige seuntjie wat amok maak waar hy ook al gaan. Maar dan gebeur iets wat dié rampokkertjie sy beste voetjie laat voorsit.