Dié verhaal van ’n jagter van Limpopo, ’n toordokter en ’n maanhaarleeu het hom in die vroeë 1980’s in die Laeveld afgespeel. Pieter van der Walt het dit só aan my vertel:
Op pad terug na die plaas waar Pieter op Sentrum naby Thabazimbi woon, keer ’n buurplaas se werker hom in die grondpad voor. “Nou, ja, Brown, wat byt jou vandag?” vra Pieter van der Walt uit oor die werker se nood nadat hulle gegroet het.
Ou Brown staan nader en antwoord dat hy ’n boodskap van Fly het. Almal in die omgewing het daai jare van Fly geweet. Hy was ’n toordokter, woonagtig op een van die ander buurplase. Pieter het hom nooit ontmoet nie, maar het al deur ’n ander boodskapper vir hom leeuvet gestuur wat hy glo vir “medisyne” nodig gehad het.