En oudergewoonte was ons nie teleurgesteld nie – nie met meer as 100 voëls wat op een dag aangeteken is nie.
Met ons aankoms by die Duinepos-selfsorgeenhede vul ons dadelik die waterbakke en sommer gou is die Kaapse fisante, slangverklikkers en verrassend, die swartkopkanaries, by om dit te benut. ’n Piet-tjou-tjou-grysmees is ook byna dadelik besig om met homself in ons voertuig se truspieëltjie te baklei.
Ná middagete verkas ons na die Abrahamskraal-voëlskuiling langs ’n dam wat die enigste vars water in die park hou. Langs die toegangspad vind ons bergpatryse en die bedreigde witvlerkkorhaan. Die hoogtepunt is egter ’n witkruisvleivalk wat stadig en laag oor die renosterveld sweef op soek na prooi.