
'n Uittreksel uit Uit klip gekap: Die storie van Agri Dwala, 'n getuienis van seën:
Dit was egter net twee weke ná die traumatiese gebeure met my broer en die vloed dat ek ’n oproep van my pa gekry het: “Kosie, julle moet huis toe kom, hier het ’n vreeslike ding gebeur! Daar is by julle huis op die plaas ingebreek en groot verwoesting is gesaai.
Maar dit is nie al nie – hulle het toegang tot die skuur gekry en al jou werktuie is vernietig!” By ons terugkeer blyk dit dat een van die plaaswerkers se seun, Simon Jaars, en twee van sy vriende vir die inbraak verantwoordelik was en die verwoesting aangerig het.
Hulle het my vroeër in Desember gevra of ek sou omgee as hulle bietjie saam met een van die ouers op die plaas kom werk om sakgeld te verdien. In daardie stadium was hulle nog op skool.
Aangesien ek en Lize graag die jongmense ’n geleentheid wou gee om meer van die plaaslewe te leer, het ek ingestem dat hulle Desember met die skape kon help. Die drie seuns het gesien dat ons besig was met voorbereidings vir ons vakansie en dat die voertuie gepak word.
Dieselfde middag is hulle Napier toe en het hulle dagga met hul geld gekoop en planne begin maak om die volgende dag die 20 km terug te loop plaas toe om by ons huis in te breek.
In die huis was ’n krat met 48 blikkies “oesbier” wat ons elke jaar van Overberg Agri gekry het. Die drie seuns het die bier gedrink en stormdronk geword.
In hul besope toestand is hulle skuur toe waar hulle die skuur oopgebreek en al my werktuie, waaronder my bakkie, motorfiets, trekker en stroper, uit die skuur uitgery het. Hulle het mekaar met ket- tings rondgetrek tot die stroper op die trekker te lande gekom het.
Die volgende oggend het my broer Dirkie op die plaas aangekom en met ’n skok op die chaos afgekom. Die drie seuns was steeds op die werf. Hulle was so gerook en gedrink dat hulle nie eens kon weghardloop nie.
Dit was baie duidelik dat hulle doelbewus skade wou aanrig aan alles waarvoor ons so hard gewerk het. Die skade was só geweldig dat ons op 27 Desember 1998 die voorblad van Rapport gehaal het.
Simon se terugkeer
Dit was in Julie 2000 dat ek op ’n dag op pad huis toe verby die werkers se huise gery het. Vir ’n oomblik het ek my verbeel ek sien vir Simon Jaars wat saam met sy makkers meer as R1 miljoen se skade aangerig het.
Ná die voorval in 1998 is die seuns 18 maande lank na ’n verbeteringskool gestuur. Ek het steeds met woede teenoor hulle in my hart gewroeg. In dié tyd het die voorbok se pa, Hendrik Stuart, nog altyd vir my op die plaas gewerk.
Weens die trauma van die huisbraak en die toenemende gerugte van plaasaanvalle en wreedaardige moorde op die boeregemeenskap in Suid-Afrika, was ek oortuig dat Simon teruggekom het om verdere skade aan te rig en wraak op ons gesin te neem.
Ek het huis toe gery en my haelgeweer gaan haal. Ek het by Hendrik en Katriena se huis ingestorm, waar Simon in sy ouers se slaapkamer op hul bed gesit het. Toe hy my met die haelgeweer in my hand sien staan, het hy uit vrees vir my sy broek natgemaak.
Ek was onder die indruk dat hy uit die verbeteringskool gekom het as ’n macho en ’n breker, en dat hy ’n groter moeilikheidmaker geword het sedert ek hom laas gesien het.
My indruk van die verbeteringskool was dalk verkeerd, maar op daardie oomblik het ek gevoel dat hy meer van kwaad doen as van goed doen geleer het. Ek het hom vervolgens weggejaag van die plaas af en agterna geskreeu dat hy nie weer sy voete op die plaas moet sit nie.
Hy het die grondpad afgehardloop met sy nat broek terwyl ek met die geweer in my hande gestaan het. Ek is terug huis toe met ’n tevredenheid in my hart, want nou het ek uiteindelik ná ’n jaar en ’n half kans gekry om ontslae te raak van my woede teenoor hom vir al die skade wat hy en sy makkers ons berokken het en al die trauma, hartseer en verlies wat ons as gevolg van hul misdaad gely het. Daardie nag was ’n worsteling.
Ek het ’n wroeging in my gees oor die seun gehad. In my geestesoog het ek oor en oor gesien hoe hy homself uit vrees vir my natmaak en hoe hy in die grondpad afhardloop terwyl ek met die geweer in my hande staan. Dit was asof die Heilige Gees my vir ’n oomblik in sy skoene geplaas het.
Ek het in daardie oomblik die jong, bruin seun se verwerping, moedeloosheid en pyn ervaar. Die Here neem my toe in ’n droom terug na Fairfield waar ek en my jong plaasvriende onder die groot boom gesit en droom het oor ons toekoms, ons planne en ons verwagtinge.
Hier is ons nou, byna tien jaar later, en vir my en Lize het die droom waar geword, maar vir al ons plaasvriende en hul kinders het die drome weggekwyn en daarmee saam die hoop om eendag self te boer. In my droom het die Here ook vir my die dag in oom Callie se kantoor gewys.
In my droom kon ek my hart van opgewondenheid voel klop toe oom Callie vir my die geleentheid gegee het wat my lewe ingrypend verander het. Die Here vra my toe: “Wat gaan jy doen, Kosie?” Die volgende oggend kon ek nie vinnig genoeg by Hendrik uitkom nie.
Ek het hom my bakkie gegee om sy seun te gaan soek en saam met hom die boodskap gestuur dat hy moet terugkom, want ek sal vir hom ’n werk gee.
In my hart is ek geroep om hom ’n geleentheid te gee, want almal het hom net geken as ’n probleemkind wat inbreek, steel en verwoes. Hy is gesien as ’n mislukking uit die verbeteringskool. Miskien was sy wonderwerk in my hart weggesteek.