My mammie was ’n kindertuinonderwyseres wat graag vir ons stories vertel het. My pa het ’n wonderlike musiektalent gehad, en het van hoërskool af sakgeld verdien in silent movies. Van kleins af het hy vir my stories vertel en dan maak hy ook op die klavier die byklanke.
Ek lees al van kleins af. As Mammie saans vir ons nag gesê het en sy sit die lig af, het ek onder die kombers en laken met my flits (ons het dit ’n “toorts” genoem) in die nag gelees.
Ek weet nie wat ek is nie; ek kan myself nie verklaar nie. Ek sê altyd ek kan nie naaldwerk doen nie, daarom skryf ek maar! Van kleins af al, as ek ’n sprinkaan gesien het, sou ek aan ’n storietjie dink en dan gaan my verbeelding net verder.