Die versamelvoël (Philetairus socius) is ’n baie sosiale en endemiese voëlspesie wat deel is van die wewerfamilie van Suider-Afrika. Dié voëls kom in die Kalaharibioom van die noorde van Namibië tot in die Noord-Kaap voor. Versamelvoëls staan daarvoor bekend dat hulle die grootste neste ter wêreld bou.
Hul kolonies om die nes kan tot 500 individue insluit. Gewoonlik word kameeldoring- en witgatbome gebruik, maar wanneer dit nie in ’n gebied beskikbaar is nie, gebruik hulle krag- en telefoonpale, windpompe en selfs hellings teen kranse. Die gewig van hierdie neste kan groot takke laat breek en bome omkantel.
Navorsers probeer tans om die ekologiese impak van hierdie spesie beter te verstaan, veral omdat die gebiede waar hulle voorkom, na verwagting in die toekoms nog droër sal word weens klimaatsverandering. Om só ’n nes te bou wat basies aan ’n tak hang, verg besondere vernuf.