Ons hou al drie baie van jenewer. Hoef ons meer te sê? Ons het jare gelede by ’n vrolike aandete met die idee vir ’n appelgebaseerde jenewer vorendag gekom, en sommer daardie aand die naam uitgedink. Toe ons ’n jaar later hoor die Elgin Railway-mark gaan oopmaak, het ons besluit om ons sake in orde te kry.
Ons het jenewerstookkursusse in Johannesburg en op Stellenbosch bygewoon en baie ure se opleiding by meesterstokers gekry. In 2018 het ons die besigheid begin. Ons is ’n klein stokery in die hartjie van die Elgin-vallei, waar ons boetiek-jenewer met vars produkte uit die vallei stook.
Ons wou ’n unieke produk skep wat die essensie van ons vallei bevat, daarom gebruik ons jenewerbessies wat plaaslik gekweek word. Die water vir ons produksieproses kom uit ’n natuurlike fontein in die omgewing.