Daar is douvoordag opgestaan, vinnig aangetrek en gewag tot Ouma se ontbyt gereed was. Slap pap met eiers, spek en boerewors. Oupa het geglo aan ’n stewige fondament.
Ons het gedurig diere versorg of groente uit die tuin gepluk. ’n Oomblik van stilsit het nie bestaan nie. Ons het hard gewerk en harder gespeel. Elke dag het ’n nuwe avontuur op ons gewag. Soms was ons só vuil dat ons eers in die plaasdam moes gaan afspoel.
Daardie jare het ons op Newcastle gewoon en my pa het by Yskor gewerk. Ons het selfs ’n drieliter-Ford Cortina gery! In daardie dae was dit dié inding.