Plaasmense is bekend daarmee dat stadsvriende bel en hul lot bekla oor die Sodom en Gomorra waar hulle hul lewe slyt. Die verkeer, die misdaad, die gejaag na wind, die besoedeling . . . Ons plaasmense is tog só bevoorreg om in die vrede en rustigheid van die platteland te woon.
Daar waar die vlaktes oneindig is, die sonsondergange skouspelagtig, die vee rustig wei op groen weivelde en die donkergroen mielies in die sagte windjie wuif. Ons slaan maar net ons oë hemelwaarts, want geen plaasmens sal ooit ’n stadsmens van die werklike sorge van ’n plaas kan oortuig nie.
Iemand het eenkeer gesê stres word veroorsaak deur sirkels wat nie toegemaak word nie. Op ’n plaas word geen sirkel toegemaak nie, of eerder die sirkels is groot en dit duur baie lank om toe te maak. Dink byvoorbeeld aan saaiery.