Op Mooifontein kry die strate lewe. Gordyne skuif oop. Ligte doof uit. Oom Gert Terblanche sug swaar. Sy lyf kromgebuig. Sy kakiehemp en -broek so vaal soos die Karoo. Sy sterk voorarms span saam waar hy aan die bakkie se reëling vashou. Stewels wat al stofspore getrap het in sy lewe, blink aan sy voete.
Sy maag wil-wil oor sy gordel klim, maar vir sy ouderdom staan hy vir geen jong man terug nie. Die paar kuite nou net ’n herinnering aan sy dae op die rugbyveld. Hy het so pas sy eerste jaar van die 60’s ingegaan.
Die sifdeur se houtraam klap met die kenmerkende skreegeluid. Tjops oorhandig gulhartig die banksakkie note. Dit was die laaste vetgemaakte hamels.