My pa het my vroeg in Januarie voor die Môreson-seunskoshuis op Clanwilliam afgelaai. ’n Rukkie later was ek besig om my klere uit te pak in ’n kamer wat deur tannie Van Rhyn, die koshuismoeder, aan my toegewys is. Die koshuislewe en die ontgroening was ’n aanpassing, maar ek het gou van die koshuislewe gehou.
Ek was 16 jaar oud en in graad 10. Die tyd het vinnig gevlieg en kort voor lank was die jaar op sy einde. Dit is wanneer die seuns- en meisiekoshuise se gesamentlike jaareindfunksie gehou word. Die tradisie is dat jy ’n meisie van die meisiekoshuis per brief “skiet” om jou metgesel te wees.
As sy nee sê, antwoord sy in ’n blou koevert. Die “bloupas”. As dit ja is, kry jy ’n witpas. Ek het nie eintlik geweet vir wie om te “skiet” nie. Ek was nog ’n laaitie en skamerig. Een oggend was dit my beurt om ons klaskamer skoon te maak en ek was haastig op pad soontoe.