Hoe maak jy ’n plan as dit nie reën nie, as daar niks in die veld groei nie?
Dit is 12:00. Ek het vandag nog nie veel gedoen nie. Sit al van 10:00 hier, op my boude, rug teen die muur, op die kombuis se sementvloer. Ek het Gerda belowe ons sou die vloer in die Desembervakansie van 2017 teël.
Teëls van haar keuse, ek sou nie inmeng nie. Maar die reën het weggebly. Ses jaar nou al. Ek wou haar daardie Desember nie in die oë kyk nie, ek het nie woorde gehad nie. Maar sy het my gesig in haar hande geneem en gefluister: “Ek verstaan, my goggabie, dit is nie jou skuld nie. Die teëls kan wag, ek kan wag.”