In my kleintyd-dae was my ouma se kombuis vir my soos die troonkamer in ’n paleis. Die geure en kleure wat daar saam gedans het, was asemrowend. Dit het my altyd so verstom dat sy van ’n sakkie appelkose wat oupa gepluk het, die heerlikste konfyt kon kook.
Ek onthou die spens met die bottels konfyt, sommige al suikerstroop-oud, maar ai, so mooi. Ek glo hierdie kuns het met die jare verlore geraak. Dit is min dat jy deesdae by iemand gaan kuier en dit voel of die spens jou innooi om sy binneste te aanskou.
Weinig sien jy ou bottels met half afgewaste etikette met verlede jaar, hierdie jaar of volgende jaar se oes wat lê en pronk. Waar sonstrale, wat deur die krakie in die toegeverfde venster loer, dans op die glas. ’n Stoflagie wat die pad wys na die soetste, diepste, lekker in ’n bottel.