Dis eintlik ’n mite dat die platteland ’n stadiger leefstyl bied. Lewensgehalte is wel beter, maar die planne wat nodig is om die brose infrastruktuur te lap, moet ook heelwat beter en vindingryker wees as in ’n gemaksugtiger stadsomgewing.
By Landbouweekblad staan ons soveel moontlik plek af aan stories oor verskilmakers. Dink aan Kosie en Lize van Zyl van Napier, Philip Jonker en sy span by Bonnievale, Gift of the Givers se dr. Imtiaz Sooliman en Koster se waterwonderwerkers. Juis op Bonnievale is daar in 2009 ’n saadjie geplant om die hoofstraat op te knap.
Wat begin het as ’n droom (Theuns Coetzee se projek is uiteindelik gepas herdoop na Droom SA), het vlamgevat in die gemeenskap. Wat gevolg het, is ’n algehele transformasie – wat vandag nog van krag is. Duisende bome is geplant, besighede en huise is opgeknap en onooglikhede het verdwyn – nie net op Bonnievale nie, maar ook buurdorpe.