Dit is geskryf deur die plantkundige Sylvie Kremer-Köhne, ’n kenner oor die bedreigde Cythna-aalwyn (Aloe lettyae) wat in die provinsie groei. Sy was een van die lede van die Vriende van die Haenertsburg Grasvelde wat hulle vir die stigting van die Haenertsburg-natuurreservaat in 2016 bearbei het.
“Die boek is ’n veelkleurige tentoonstelling van die provinsie se blommeverskeidenheid. Met uitstekende kleurfoto’s, maklik verstaanbare teks en verspreidingskaarte wat wys waar plante in Limpopo voorkom, help hierdie gids ’n mens om byna 800 spesies akkuraat uit te ken,” skryf dr. Dave Thompson, ’n navorser oor biodiversiteit by die Ndlovu-node van die Suid-Afrikaanse omgewingsobservasienetwerk SAEON, in ’n onlangse nuusbrief van die netwerk.
“Dit maak die flora van die noordooste van Suid-Afrika toegankliker vir veldblomentoesiaste, en ondersteun daarby studies deur studente en akademici met besluite wat oor die omgewing gemaak moet word.”