Die interessante geskiedenis wat toeka op Derdepoort in Noordwes, langs die Groot-Maricorivier op die Botswanagrens, afgespeel het, is besig om in die niet te verdwyn.
Dit is op Derdepoort dat die Matabelemag van Silkaats (Mzilikazi) op Sondag 12 November 1837 deur ’n Boerekommando onder leiding van die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter verslaan is.
Silkaats en ’n bende het oor Botswana na die Zambezivallei in Zimbabwe gevlug, terwyl sy hoofgroep onder hoofindoena Nkaliphi met sy vroue en troonopvolger na ’n gebied in die omgewing van Bulawayo in Zimbabwe gevlug het.