Vandat ek ’n tjokkertjie was, het ek Landbouweekblad gelees. Landbouweekblad was beslis my pa se tweede Bybel. Ek kan nog mooi onthou hoe my pa vir my die verskillende bees- en skaaprasse uitgewys het.
My oupas was albei boere. Vandat ek baie klein was, het ons twee skoolvakansies per jaar plaas toe gegaan in die Oos-Kaap. Dit was my lewe om koeie te kon melk en die skape in die kraal te jaag. Vandag, op 72 jaar oud, is Landbouweekblad steeds my gunstelingtydskrif. Ek loop nie een uitgawe mis nie.
Nampo 2022 was tot dusver die hoogtepunt van my jaar. Ons besoek die Nampo-oesdag elke jaar en my man moet my behoorlik wegsleep van die pragtige spogdiere af. Ek is gewoonlik kinderlik gelukkig wanneer ek tussen die diere is en die vars misreuk my sintuie oorweldig. Ek is verstom oor die nuutste tegnologie.