Aan die voet van die Sneeuberg buite Nieu-Bethesda, op ’n skaapplaas, is een van Suid-Afrika se omvattendste private fossielversamelings. Én dit is toeganklik vir die publiek.
Jan Peet (JP) Steynberg en sy vrou, Hester, van die plaas Ganora is nie net bekroonde Dohne-Merino-boere nie, maar bied ook ’n toevlugsoord vir wilde diere wat aansterk tydens rehabilitasie.
Boonop verskaf hulle ’n geleentheid aan wetenskaplikes om temperatuur, reënval, geowetenskap en ander navorsing te doen. Die naam Ganora is afgelei van Gardiner en Nora van Niekerk wat die plaas ná die Anglo-Boereoorlog gekoop het, maar in Hebreeus beteken “Gan” tuin en “Ora” met lig.