Cap Classique (moet dit tog net nie Methode Cap Classique of erger nog, sjampanje, noem nie!) is een van die opwindendste wynkategorieë in Suid-Afrika wat al die afgelope tien jaar dubbelsyfergroei toon.
Tog word daar nog net sowat 10 miljoen bottels van dié Trots Suid-Afrikaans produk gemaak, wat maar min is as jy dink aan die 630 miljoen bottels Prosecco wat die Italianers elke jaar in groot maat produseer, of die 341 miljoen bottels sjampanje wat in die Franse Champagne-streek gemaak word.
Cap Classique het ’n lang pad gestap sedert Frans Malan van Simonsig in 1971 die eerste bottelgegisde vonkelwyn gemaak het. Destyds was dit teen R3 per bottel die duurste wyn in Suid-Afrika, maar dit het swak verkoop omdat mense dit nie geken of verstaan het nie.