In my studentedae was die Villiers-vulstasie-en-padstal my (en vele ander studente) se halfpad-stilhouplek langs die N3-hoofweg terug universiteit toe. Destyds was die padstal bekend as Niki se Padstal, maar dit is in 2013 deur Elize Lourens oorgeneem.
Vandag word dit net Die Padstal genoem. (Sy en haar man, Fanie, besit albei padstalle aan die weste- en oostekant van die pad.) Die strategies geleë gebou, by die Engen One Stop Villiers, het behoue gebly. Hoewel geen borde op die N3 aangebring kan word om dit aan te dui nie, is dit goed sigbaar.
Elize wil hê mense moet spesiaal by Die Padstal stilhou omdat spesifieke produkte slegs daar verkrygbaar is en dit ’n unieke ervaring is. Op die rakke pryk outydse produkte wat jou laat terugdink aan jou kinderdae en wat ’n plaasgevoel gee langs die besige pad.