Aan die einde van Dolfynlaan, ’n straat in Struisbaai-Noord, met inwoners wat meestal bestaansvissers is en talle gesinne wat van Sassa-toelaes afhanklik is, staan ’n imposante wit-en-grys gebou. ’n Jaar gelede was hier ’n oop stuk veld, maar vandag is dit die tuiste van die Struisbaai-vaardigheidskool.
“Dít is ’n plek waar ons kinders weer kan droom,” sê mnr. Soon Hendricks, wat in ’n huisie oorkant die gebou woon. Dié skool, wat vanjaar oopgemaak het, volg in die voetspore van die Jakes Gerwel Tegniese Skool wat in 2017 op Bonnievale gebou is.
Die droom wat die wynmaker mnr. Philip Jonker en sy pa, Lourens, van die Weltevrede-wynlandgoed destyds gehad het, was om ’n tegniese skool van uitnemendheid te bou waar kinders – wat nie plasing in ander skole kon kry nie – opleiding kon kry in onder meer ingenieurswese, sweiswerk, vakmanskap en as sjefs.