In 2018, tien jaar nadat sy weens omstandighede ’n Camino-pelgrimstog moes kanselleer, is haar geesteskind, die Oos-Kaapse Hoogland-Camino, gebore.
Haar Hoogland-Camino-Facebookblad raai aan: “Take the road less travelled.” Dié skilderagtige roete wat Elizma den Heyer uitgewerk het, strek vir 60 km deur pragtige valleie en oor riviere tussen Barkly-Oos en Rhodes, nét onder die draak se stert teen die suidelike hange van die Drakensberg.
Dit is digby die Oos-Kaapse grens met Lesotho en volg die R396-grondpad. Elizma het seker gemaak dat verskeie plase en plaaslike ondernemings betrek word en by die inisiatief baat vind.