Alouise en Keir Lynch van Bionerds (Edms.) Bpk., ’n ekologiese konsultasiefirma op Robertson in die Wes-Kaap, het al nege Suid-Afrikaanse dwergadderspesies in die natuur opgespoor en afgeneem. Hulle help om die skaarste een, die Albanie-adder, te beskerm.
Die genus Bitis bestaan uit 18 spesies, waarvan 12 giftige dwergadders is. Nege hiervan word in Suid-Afrika aangetref. Nog drie kom in onderskeidelik Namibië, Angola en Kenia voor.
Sommige spesies is endemies aan baie spesifieke habitatte en het mettertyd aangepas om dikwels in uiterste biogeografiese toestande te floreer. Bionerds se soektog na dwergadders het in Desember 2016 begin toe hulle die Seweweekspoort in die Klein-Swartberge naby Ladismith besoek het.