In my loopbaan as joernalis wat nou ’n halfeeu nader, het ek van my wonderlikste tye op die platteland gehad, veral die afgelope 33 jaar by Landbouweekblad.
Wat is lekkerder as om boere te besoek, ’n landbouskou by te woon of saam met boere te kuier? Die gesonde mededinging op skoue, telers wat mekaar goedig spot en die beoordelaars wat met ’n valkoog dopgehou word. Dis waar die landboufotograaf die kampioendiere uit die beste hoek moet afneem om daardie prag-bouvorm te wys.
Dan is daar die kuier ná ’n studiegroepvergadering onder ’n doringboom of die besigtiging van gewasproewe in die somerson. Hier hoor jy wat tans die onderwerpe van bespreking is, of ’n Hilux of ’n Ranger die beste is en wie se ras of kultivar koning kraai.