
Ongelukkig het die slaai wat ek uit my kinderdae onthou, nie juis bygedra daartoe dat ek ’n slaai-liefhebber geword het nie. Mengelslaaie met klammerige stukkies blaarslaai, gewafelde komkommer en wiggies tamatie of wortelslaai met blikkies pynappelmoes was daar in oorvloed. As mense regtig deftig wou wees, het hulle ’n slaai versier met tamatierose. En dan was daar gestolde slaairinge wat rillend op buffettafels gepryk het.
Al sprankie hoop was aartappelslaai, ons almal se gunstelingbraaislaai. My ma het die sous vir haar aartappelslaai gegeur met ’n bietjie mosterd, ’n knippie strooisuiker en witpeper – ek sal daardie smaak nooit vergeet nie. Die geheim is om genoeg sous oor die aartappelblokkies (wat by kamertemperatuur moet wees) te skep, en dan net voor jy eet fyngesnipperde agurkie en fyngekapte hardgekookte eier oor te sprinkel.
Maar die slaai van vandag is anders. En dis ook nie net iets wat op die tafel gesit word om ons gewete te sus nie. Slaai kan ’n ete wees, of dit kan die hoofgereg so goed komplementeer dat jy dit nie daarsonder kan voorsit nie! Vandag se slaai is koel kos. Dis kos waarmee jy vrye teuels aan jou verbeelding kan gee, want met slaai is daar nie reëls nie.
Vyf jaar terug het ek gewerk aan ’n promosiebylae saam met Freshmark, die Shoprite-groep se varsproduktebeen. Sedertdien verskyn daar in elke uitgawe van Boerekos ’n vars Freshmark-resepafdeling. Ons gesels met boere reg oor Suid-Afrika wat die ongelooflikste groente en vrugte verbou. Met hierdie kraakvars produkte in die toetskombuis eksperimenteer ons na hartelus.
Vandeesweek gee ek ’n paar resepte vir slaai met spiere – voedsame, gesonde slaai wat sy man kan staan as volledige ete – gelaai met vitamiene, proteïene, minerale en vesel. Volgende keer as jy in jou naaste Shoprite, Checkers of OK is, laai ’n paar Freshmark-slaaibestanddele waarmee jy nie so bekend is nie in jou trollie en gee vrye teuels aan jou verbeelding! Jy sal aangenaam verras word.