Terwyl Natalie Green (30) met haar dagtaak besig was om breidrag uit die Ooste in te voer, het die gebrek aan ’n plaaslike tekstielbedryf haar begin pla. “Dit was veral moeilik tydens die covid-19-pandemie, want verskeping het ’n nagmerrie geword. Ek het besef ’n mens kan ook net soveel op ’n oorsese produk staatmaak.
“Dit is tyd dat ons weer begin bou aan iets in die plaaslike breidraad-bedryf,” sê Natalie tydens ons gesprek in een van haar gunsteling-koffiewinkels in Woodstock, Kaapstad, eens die hart van die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf.
Dít was ook die aanmoediging wat sy nodig gehad het om Inke te begin, ’n onderneming wat moderne breidrag van natuurlike vesel vervaardig en wat sy na-ure bedryf.