Vier van die sewe seevoëlspesies wat endemies aan die Benguela-seestroom is, naamlik die brilpikkewyn, trekduiker, bankduiker en witmalgas, ding met die visbedryf om prooi mee en word as bedreig beskou.
Die vermindering van prooi, soos sardyne en ansjovis, word as die belangrikste oorsaak beskou van die onlangse groot afname in die spesies se getalle. Namate die getalle verminder, verklein die broeikolonies ook, wat die spesies kwesbaarder maak vir siektes soos voëlgriep.
Dít vererger die moontlikheid van totale uitwissing. Verskeie pogings word reeds aangewend om te verseker dat vis vir die voëls beskikbaar is. Só word visvang verbied op belangrike plekke waar voëls kos kry, gewoonlik rondom broeikolonies.