Ons plant suikermielies op sowat 180 ha by Hoedspruit. My man, Koos, is verantwoordelik vir die produksie en ek behartig die bemarking.
Mielies is in die sestiende en sewentiende eeu die eerste keer in Afrika geplant. Suikermielies spruit uit mielies waarvan die suikerinhoud minstens twee keer soveel as tradisionele mielies is danksy ’n natuurlike mutasie in die gene wat die omskakeling van suiker na stysel beheer.
In die Laeveld is ons ideale oestyd van April tot November. Somertyd, wanneer die kwik tot 40 °C kan styg, duur dit sowat 60 dae van plant tot pluk, maar in die winter rek dit tot 110 dae.