My ma, wat ek in matriek verloor het, was baie stylvol en sy het by my ’n liefde vir mode gekweek. Ek het ook nog altyd belang gestel in die skep van patrone, maar nie die selfvertroue gehad om ’n loopbaan daarvan te maak nie.
Toe ek elf jaar gelede met ’n Namibiese boer trou en as Bolandse meisie in die suide van Namibië (Karasburg) kom woon, het ek iets gesoek om my dae mee in te kleur. Ek het by die plaaslike kwiltwerkgroep aangesluit en geleer om naaldwerk te doen. Aanlyn kursusse het daardie tyd baie gewild begin word.
’n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek besef ek kan al hierdie wonderlike goed by die huis leer. Ek het onder meer ’n kortkursus in die ontwerp van vroueklere deur die London College of Fashion gedoen.