Die agterplaas en strook grond aan die suidekant van ons huis was beslis een van die bes bewerkte stukke grond op Porterville. Pa Ludwig se groot liefde was sy tuin.
Daardie stuk grond is regdeur die jaar met baie moeite en groot sorg omskep in ’n groente- en vrugtelushof wat ons (as onkundiges) as vanselfsprekend aanvaar het. As ons maar net besef het hoeveel toewyding, beplanning en volgehoue sorg die stukkie grond geverg het.
Ons het altyd groente en vrugte in die huis gehad – vars uit die tuin. Wat ’n voorreg. By ons agterstoep het ’n groot vyeboom agter die wasklip jou begroet.