“Ai, Karlien, ek sukkel tog so om mense te onthaal. Ek geniet die geselskap, maar teen die tyd dat ek ál my kos voorberei het, is ek pootuit,” skryf ’n moedelose leseres aan my. Ek meen die groot fout wat die meeste van ons maak as dit by onthaal kom, is dat ons té veel wil uithang.
Ons berei ’n magdom kos voor – ’n voorgereg, twee of drie soorte vleis, vyf soorte bykos, drie soorte slaai en twee soorte nagereg. Ek jok nou nie, hoor! Ek moes al self deur so ’n ete sluk, en al gevolg wat dit gehad het, is dat ek nie gou genoeg by die huis en die botteltjie vrugtesout kon kom nie.
Ek het deur die jare al deur eie ondervinding en ook deur wat ek by ander mense geëet het, geleer dat die suksesvolste manier om te onthaal, is om eenvoudige disse, goed voorberei en smaaklik opgedis, voor te sit.