Wat ’n verrassing toe ons tussen Haarlem en Misgund in die Langkloof stilhou. Roete 62 word skielik onderbreek en die lang rit in die enkelkajuitbakkie opgevrolik deur iets wat ons tegelykertyd raaksien: Voor ’n eenvoudige huisie groei plate vygies wat so raak-raak aan die teerpad op die grens tussen die Wes-Kaap en die Oos-Kaap.
Die oordaad vygies wink hierdie twee moeë reisigers vrolik nader. Pastelle in ligpienk, helderpienk, lilapers, en ook ’n baba-eendgeel vygiebos wat die oog vang. In die lappieskomberstuin vertoon daar tussen-in ook ’n verskeidenheid gazanias. Hard aan die meeding om aandag.
’n Gryskopvrou met ’n geel voorskoot kom nader gestap. “Môre, Meneer. Môre, Mevrou.” “Môre, Tannie!” My man vra haar of sy sal omgee as hy ’n steggie van die ligpers vygie uithaal om in sy tuin in die Oos-Kaap te gaan plant. Hy soek nou al só lank na dié kleur. Ons sal betaal daarvoor.