As ’n mens deur die Baviaanskloof ry, verwag jy grondpaaie en steil bergpasse. Kom jy van Willowmore se kant af, kry jy ná sowat 70 km die BaviJAANS-padstal op die plaas Beacosnek, waar jy kan rus en ’n versterking kry om jou vir die “rowwe” deel van die kloof gereed te maak.
As jy van Patensie af kom, ry jy 130 km om daar te kom. Jana Meyer, eienaar van die padstal wat byna in die middel van die tradisionele kloof geleë is, sê hulle wil ’n lafenis bied vir moeë reisigers. As jy in die kloof oorbly, kan jy ook jou braaihout, ys en blikkieskos daar koop, want dit is een van die min winkels in die kloof.
“Die BaviJAANS-padstal is ’n onderneming wat ’n diens aan die gemeenskap en reisigers lewer,” sê Jana, wat nou haar droom uitleef nadat sy as kind gereeld by haar grootouers Johan en Anna Lamprecht op die plaas in die Baviaanskloof gekuier het.